Paulus skryf in Romeine 12:1 - 2 die volgende welbekende woorde dat ons ons liggame moet stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevalle offer en dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet word nie, maar dat ons verander moet word deur die vernuwing van ons gemoed.  Maar ek dink u sal met my saamstem dat om te verander nie so maklik is nie. Inteendeel, een van die moeilikste dinge in hierdie wêreld vir ons as mens in om te kan verander. Ons het dan ook nog baie keer die gesindheid dat mense ons moet aanvaar net soos wat ons is want dit is nou maar eenmaal wie ons is en so sal ons bly tot die dag wanneer ons ons kop neerlê. Luister hoe word hierdie vers beskryf in die Message Bible: "Don't become so well-adjusted to your culture that you fit into it without even thinking. Instead, fix your attention on God. You'll be changed from the inside out." 
Kyk ook na die volgende vertaling in
Bible in Basic English: "And let not your behavior be like that of this world, but be changed and made new in mind, so that by experience you may have knowledge of the good and pleasing and complete purpose of God." 
Die grootste frustrasie onder meeste gelowiges is die onvermoë om te kan verander.  Dit blyk eerder of kinders van die Here eerder hul probleme en omstandighede lewenslank met hulle saamdra.  Dit is egter nie God se wil vir ons as mens nie. Die oomblik wanneer iemand tot redding kom, is daar gewoonlik 'n onmiddellike verandering te bespeur.  Op verskeie gebiede van daardie persoon se lewe is die verandering dadelik sigbaar.  Tog is dit ook so dat hierdie verandering baie keer net van korte duur is en vind die persoon hom-/haarself weer in dieselfde patroon as vantevore.
Romeine 6:14 sê egter duidelik vir ons dat die sonde nie meer oor ons heers nie want ons is onder die genade en nie die wet nie. Daarom moet ons ons harte bewaar meer as enigiets anders. (Spreuke 4:23.)Die grootste verandering wat enige persoon kan ondergaan kom voor by redding.  In een oomblik se tyd verander alles en hierdie verandering kom deur net te glo.  Die oomblik toe ons aan God en Sy liefde vir ons glo, het genade ingetree en is ons verander.  As die grootste verandering dan gekom het deur net te glo, waarom hou ons nie net aan om te glo nie? In Galasiërs 3:3 vra Paulus of ons as mens dan onverstandig is want ons begin in die Gees maar ons eindig in die vlees. Paulus se raad aan ons is om in Christus te wandel soos wat ons Hom aangeneem het, en dan sal geeneen van hierdie frustrasies meer daar wees nie. Kolossense 2:6: Living Bible: "And now, just as you trusted Christ to save you, trust Him too, for each day's problems; live in vital union with Him."